Visvang
Die Krokodilrivier is enkele meters weg van elke kamp staanplek. Die waters spog met karp, kurper, geelvis en bass.
Swem
Daar naby aan die hoofhuis, toegang vir kampeerders tot ‘n twee-baan Olimpiese lengte swembad, asook ‘n klein plonsswembad (splash pool). Albei swembaddens se temperatuur word rondom 25 grade Celsius gehou, dus kan diegene wat dapper voel in die winter, ook ‘n swem gaan geniet.
Braai
Wat is ‘n kamp sonder ‘n braai? Die omgewing spog met genoegsame hout en die eienaar, Oom Peet en sy span sal sorg dat daar genoeg hout beskikbaar is vir braai en die donkie se stook.
Bergfietsry (Mountain biking)
Die paaie in en rondom die kampterrein, sal veral vir die jongspan heerlike geleentheid bied om veilig rond te ry. Ma en Pa kan maklik die jongspan se beweging en roete dophou vanaf die kamp staanplek, of hulle kan natuurlik hul eie fietse ook afstof en saamry.
Stap
Die einste paaie is ook te voet begaanbaar, en ‘n wandeling in die ongerepte natuur met skoon, vars lug, is presies wat die dokter sou aanbeveel! Kom beleef die ongelooflike, ongerepte plantegroei in die bosveld-atmosfeer.
Oefen jou gholf, hokkie of krieket
Ja, jy het reg gelees. Oom Peet het ‘n lieflike oop stuk gras wat hy aangeplant het en onderhou vir sy werk as grasverskaffer. Hierdie lieflike area stel hy beskikbaar vir diegene wat bietjie wil balle slaan.
Voëllewe
Die entoesiastiese voëlkyker sal nie teleurgestel word nie. Daar is oor die 100 voëlspesies en die geroep van die visarend kan onmiskenbaar gehoor word.
Raak net rustig
Ontspan. Herlaai en reflekteer. Dis heeltemal in orde en ook noodsaaklik om soms van alles af te skakel, agteroor te sit en heeltemal niks te doen nie. En dis heeltemal moontlik om so ‘n toestand van laat-gaan by Berg-en-Bos te bereik.