Berg en Bos


Daar is twee soorte mense wat gewoonlik gaan kamp. Jy sien hulle sommer al by die hek inry. Daar is diegene wat angstig en vol verwagting rondkyk vir iemand wat kan help kamp opslaan en daagliks kom skottelgoed was. Hulle is daar vir gemak en wil dinge vinnig laat gebeur.
Dan kry jy die ouens wat gaan wil afskaal, hul basiese oorlewingsvaardighede wil afstof en gaan vir DIY.
Berg en Bos kampterrein is vir die visserman, stapper, fietsryer en kampeerder wat nie sal omgee om “back to the basics” te gaan nie. Die kampterrein is klein en intiem met 5 staanplekke. Drie van hulle is aan die bokant van die terrein met vinnige toegang tot die twee storte, elk met ‘n toilet en wasbak en klein opwas-area. Die ander twee staanplekke is verder af op die terrein met toegang tot ‘n donkie, toilet en klein opwas-area.
Nee, jy gaan nie met die gebalk van hierdie donkie gepla word nie. Daar is ‘n generasie wat met die donkie water warm gemaak het en nie geysers in die huis gehad het nie. As jy weet hoe om ‘n goeie vuur te pak, te onderhou en geduldig te wag vir die water om warm te word, sal hierdie staanplekke ideaal wees vir jou.

Berg en Bos het ‘n ongerepte natuurskoon. Bedags is dit die helder blou lug en sonskyn wat jy ten volle kan benut. Daar is twee swembaddens om te gaan afkoel en die bruisende Krokodilriver waarlangs jy kan stap, piekniek hou en lyn natmaak. Snags is daar ‘n sterbelaaide hemel wat jou begroet met net die naggeluide om jou. En dis waarom Berg en Bos klein is, en nie kommersieël wyd geadverteer word nie. Dis juis om die ongereptheid en rustigheid van die natuur te behou en vir diegene met ‘n liefde vir stilte, vrede en die natuur , ‘n kans te bied om op hul eie aangewese te wees.


Die haastige bestuurder wat met ‘n vaart uit die stad uit wegvlug na Berg-en-Bos se rus en vrede, gaan met die laaste 2 kilometer grondpad, beslis sy lood regterpoot so bietjie van ‘n blaaskans moet gee. Die haastigheid moet gelaat word by die begin van die grondpad. Konsentrasie en bestuursvernuf gaan nodig wees. Onthou, jy betree die ongerepte natuur. Ry rustig en kalm op hierdie tweespoor pad. In die reënseisoen veral moet jy onthou, die grondpad word ‘n modderpad. ‘n Voertuig wat laag hang, se pens gaan hard kennis maak met die tweespoor pad. ‘n Lekker dik stel tekkies aan jou voertuie gaan sonder moeite die 2 kilometer kafdraf.






Website created by
Louis van Niekerk
07/06/2022